Follow us on Facebook Re a Lora on Instagram Location Contact Us

Tel: +27 (0) 64 040 4302

Goeie groei vir wildbedryf voorspel - Gerrit Bezuidenhout (landbou.com)

Die vooruitsigte vir skaars wild en kleurvariantspesies op die mediumtermyn lyk rooskleurig.

In ’n studie deur drs. Flippie Cloete, Peet van der Merwe en prof. Melville Saayman van die Noordwes-Universiteit, het die navorsers bevind dat dié wildspesies nog vir die afsienbare toekoms ’n goeie belegging sal bly.

Die studie, Game Ranch Profitability in South Africa, is tydens Wildbedryf SA (WRSA) se Wildlife Farming-konferensie by die Jakaranda-skou bekend gestel.

Cloete meen dat die teel van hierdie spesies tans in ’n kuddebou-fase is. “Wanneer die aantal hoër-waarde dierspesies in berekening gebring word, blyk dit dat hierdie diere tans nog taamlik laag op hulle onderskeie bevolkingsgroeikurwes lê,” sê hy.

In die studie word bv. daarop gewys dat daar gedurende 2014 slegs 100 goue blouwildebeeste en 200 swart rooibokke op amptelike wildveilings verkoop is. “Ons verwagting hieruit is dat die aanbod van hoër-waarde en kleurvariant-wild ’n beskeie toename jaar-op-jaar sal toon terwyl wildboere daarop fokus om hulle kuddes uit te brei. Daar sal wel in die toekoms ’n versadigingspunt bereik word, waar die hoeveelheid wild wat aangebied word, die prys sal laat afplat. Wanneer hierdie punt bereik gaan word, is egter tans onmoontlik om te bepaal,” sê dr. Cloete.

Terselfdertyd meen hy dat die vraag na skaars wild en kleurvariantspesies vir die afsienbare toekoms sal bly groei. “Die vraag sal gestimuleer word deur die groei en ontwikkeling van die wildbedryf self, die tradisionele landbou en deur korporatiewe belegging,” sê hy.

Die onlangse opswaai in die waarde van vlaktewild het veral ’n bydrae gelewer tot die finansiële groei van wildboere. Dit het hulle in staat gestel om hulle besigheid te diversifiseer om ook skaarswild en kleurvariante te begin teel.

Die winsgewendheid van die wildbedryf, in teenstelling met meer tradisionele boerderye, soos gewasse en vee, het ook tot gevolg dat verskeie tradisionele gewas en veeboere na wild diversifiseer of oorskakel. In hierdie geval word wild gebruik as ’n strategie om die finansiële toestand van die boerdery te verbeter of om moeilike finansiële omstandighede te bowe te kom.

“In hierde geval sal die boer ’n nuwe strategie volg, weg van ‘groter is beter’ na ‘hoër waarde per hektaar geproduseer,” sê Cloete. Op dieselfde manier sal die vooruitsigte van volgehoue buitengewone finansiële prestasie, voortgaan om korporatiewe beleggers, beide plaaslik en internasionaal, te lok.