Follow us on Facebook Re a Lora on Instagram Location Contact Us

Tel: +27 (0) 64 040 4302

Rekords spat weer op veiling - Charné Kemp (Netwerk 24)

Bastergemsbokbul vir R9,5 m. verkoop

KIMBERLEY. – Die rekordpryse wat Dinsdag op Wintershoek Wild se eerste wildveiling behaal is, is volgens kenners bewys dat die wildbedryf, veral ook in die Noord-Kaap, gesond is en steeds groei.

Die Back to Basics-veiling het ’n omset van net meer as R60 miljoen gehad.

’n Rekordprys is vir Hennesey, ’n gesogte bastergemsbokbul, behaal toe hy vir R9,5 miljoen aan die bekende wildteler Piet du Toit verkoop is.

Wian van der Linde, mede-eienaar van Wintershoek Wild, sê hy is meer as tevrede met die omset. “Ek het gedink Hennesey sal vir sowat R2 miljoen verkoopword.”

Die uitsonderlike Juliet, ’n buffelkoei met ’n horingwydte van 35,5 duim, is vir R1,9 miljoen verkoop. Reeds met die eerste lotte wild, wat springbokke en tsessebe ingesluit het, was die pryse byna drie keer hoër as die markwaarde. Een van die rekords wat behaal is, is vir ’n lot bontebokke wat teen R170 000 stuk verkoop is.

“Die pryse wat behaal is, is ongelooflik. Ek is baie dankbaar vir die ondersteuning van boere in die bedryf. Die gemiddelde prys per dier is hoër as wat die afgelope jaar in die bedryf behaal is.

“Ek en Hennie Gous, my vennoot, gaan die inkomste in die besigheid terugploeg. Ons is besig om die Kareekloof-wildplaas tussen Prieska en Strydenburg in ’n wildplaas te ontwikkel. Die werk gaan voort.”

Jaco Troskie, Bloemfonteiner en eienaar van Unyati-wild, sê die bedryf het die afgelope jaar op ’n goeie noot afgesluit.

“Rekordbedrae is in die afgelope twee weke vir wild op veilings behaal.

“Dit is ongelooflik dat die prys vir Hennesey op die Wintershoek-veiling ’n verdubbeling is van die vorige rekordprys van R4,4 miljoen in 2014. Dit het gebeur te midde van ’n swakker ekonomie en gissings oor ’n sogenaamde lugborrel wat in die bedryf gaan bars.”

Du Toit was vol lof vir Wintershoek se wildaanbod.

“Die diere is in ’n goeie toestand, want hulle het baie ruimte in die veld. Hulle word nie in klein kampe aangehou nie.”

Du Toit meen die wildbedryf is gesond en groei steeds.

“Dit bly ’n groot belegging. Wanneer die nasate goeie pryse behaal, groei die belegging.”

Brandon Leer, afslaer van Vleissentraal, het die veiling op ’n goedige noot begin deur twee dorperramme op te veil. Norman Adamy en Solly Potgieter het saam sowat R460 000 vir die twee ramme opgedok. Dié geld word aan die Wintershoek-kleuterskool geskenk en gaan ook vir studiebeurse aangewend word.

Leer sê die veiling was uniek, omdat daar geen reserwepryse was nie.

“Dit getuig dat Wintershoek se eienaars vertroue in die goeie genetika van die diere het en dat die bemarking van die veiling goed was.

“Die regte kopers was bereid om duisende kilometers af te lê om die veiling by te woon.”

Cikelwa Chotelo, LUR vir omgewingsake, sê die veiling was goeie reklame vir die Noord-Kaapse wildbedryf.

“Ek wil graag sien dat meer swart beleggers in die wildbedryf betrokke raak.

“Dit is volhoubaar en hou ’n goeie toekoms in vir voornemende wildboere wat bereid is om meer te leer.”

Sowat 500 diere in 91 lotte is verkoop.