Follow us on Facebook Re a Lora on Instagram Location Contact Us

Tel: +27 (0) 64 040 4302

Skaarswildspesies nog in gesonde lig - Adriaan Snyman (Wildboere.com)

Dit gebeur gereeld dat die hedendaagse hoofstroom media die publiek se siening probeer swaai in ‘n rigting wat nie altyd gesond vir die industrie, of die mense binne in die industrie is nie.

‘n Uistekende voorbeeld hiervan is ‘n onlangse artikel met die opskrif “Eksotiese wild kry bloedneus op Kirkwood,” waar daar beweer word dat “daar vanjaar min belangstelling vir dié tipe wild” is.

Alhoewel die term “Eksotiese kleure” in die artikel gebruik word, sal ons vir doeleindes van hierdie artikel verwys na kleur-variante en skaarswildspesies, sodat dinge bietjie in perspektief geplaas kan word.

Die ABSA Kirkwood Wildsfees is seker een van die lekkerste wildsfeeste in die land, maar om die betrokke wildveiling een van die grootstes in die land te noem, is buitensporig oordrewe. Die veiling se omset verlede jaar was R26,5 miljoen. Neem egter in ag dat dit die bekende Saalrug blesbok, Top Deck, insluit wat vir R7,8 miljoen deur Gamevest Game Breeders gekoop is. Net die een bok het dus 30% van die totale veiling omset beloop.

Sonder so besonderse dier en die nodige voorafgaande bemarking in lyn met soortgelyke diere voor ‘n veiling, sal dit die omset van enige so veiling aansienlik minder maak. Voeg ook by dat hierdie enkele diere aansienlike hoë pryse behaal, en dat die gemiddelde wildboer ‘n baie goeie idee het van wat markverwant is en wat finansieel sin maak. Wanneer die verwagting van die verkopers, vir watter rede ook al, te hoog is beteken dit nie dat die pryse besig is om te tuimel nie. Dit beteken nog minder dat die belangstelling in skaarswildspesies verminder het en hoegenaamd glad nie dat skaarswildspesies ‘n bloedneus hou getref is nie.

Ek ontken nie vir een oomblik dat die mark besig is met ‘n proses om homself gevestig en stabiel te kry nie. Maar vir dit om op ‘n gesonde manier plaas te vind, is dit noodsaaklik dat daar genoeg finansiële en ander verwante inligting in bedryf gepubliseer moet word. Inligting wat ook ek erken, tekort skiet in die bedryf. Tog moet ons ten spyte daarvan en vir die welstand van almal in die bedryf, onderskeid tref tussen die vele opskrifte en artikels wat ons emosioneel beïnvloed teenoor die substansiële inligting wat opbouend is van aard en ons onderrig in goeie beleggings besluite.