Follow us on Facebook Re a Lora on Instagram Location Contact Us

Tel: +27 (0) 64 040 4302

Swartwitpensbul haal R27 miljoen op veiling - Pieter Steyn (Netwerk 24)

Mopanie - Piet Warren

Skaars het die stof gaan lê oor ’n rekord R9,4 miljoen vir Hercules, die koedoebul, toe spat nóg ’n rekord skouspelagtig.

Mopanie, die swartwitpensbul van Piet Warren, bekende wildboer van Gravelotte in Limpopo, het Donderdag ’n allemintige R27 miljoen op ’n veiling behaal.

Dié klas pryse word gewoonlik vir buffels behaal.

“Sewe-en-twintig-miljoen. Séwe-en-twintig-miljoen!” het Warren verbaas en opgewonde uitgeroep nadat die bod op Mopanie, ’n 4½-jarige suiwer Zambiese bul, aan Barend Vorster, grootbaas van BJ Vorster (Edms) Bpk. van Letsetele, toegestaan is.

“Toe ek in 2002 my R500 000 vir ’n swartwitpensbul betaal, het die mense gesê ek is gek, mal. Kyk nou,” het Warren byna uitasem van die opgewondenheid vertel.

“Dis top-genetika.”

Volgens Niel Swart, afslaer van Vleissentraal wat die veiling behartig het, was die vorige rekord vir ’n suiwer Zambiese swartwitpens in 2012 opgestel toe daar R12,25 miljoen vir die dier betaal is. Dit was ook een van Warren se bulle.

Benewens Mopanie se rekord is nog rekords gebreek toe die hamer op R21 miljoen geval het vir Deuce, ook ’n swartwitpensbul. Deuce is deur Richard en Tony Morton van Tembani Wildlife by Thabazimbi gekoop.

’n Derde rekord is aan flarde toe ’n Zambiese kruisbul vir R17 miljoen verkoop is aan Kobus du Toit van Gravelotte. Die vorige rekord vir ’n kruisbul was R5,8 miljoen.

“Ons het vandag 41 bulle opgeveil en die omset was byna R140 miljoen vir die totale veiling,” het Swart gesê.

Warren sê dit voel of hy op wolke loop.

“Man, ek kan die gevoel nie beskryf nie. Jy droom van ’n omset van R100 miljoen dan kom jy hier by die R140 miljoen. Ek voel soos ’n kat wat room gekry het.”

Hy sê die vreugdevure gaan tot laatnag brand.

“Al die kos en die drinkgoed is op die huis. Hel, ek kan dit steeds nie glo nie. Dis soos ’n droom.”