Follow us on Facebook Re a Lora on Instagram Location Contact Us

Tel: +27 (0) 64 040 4302

Variante: ‘Kleur bepaal nie ’n bedryf nie’ - Chris Burgess (Landbou.com)

Gaan diegene wat groot geld in kleurvariante belê het, steeds ’n astronomiese opbrengs op hul belegging kry?

Peter Flack se boodskap het glad nie goed afgegaan nie. (Artikel: Wildmanipulasie skiet SA reputasie aan flarde, LBW, 26 Junie 2015).

As seker Suid-Afrika se bekendste internasionale jagter het hy onlangs in Landbouweekblad sy misnoeë te kenne gegee oor die teel van kleurvariant-wildsbokke en die gevaar wat hy beweer dit vir die land se reputasie as internasionale jagbestemming inhou.

Of dit waar is of nie, is nie ter sake nie. Dit was ’n mening wat ons gevoel het ons wildboere moet hoor. Noem dit markinligting as jy wil, want jagters maak steeds ’n beduidende deel van die wildmark uit.

Ja, dit kan soms moeite wees om gasheer te speel vir groepe plaaslike biltongjagters, maar hulle verteenwoordig enorme waarde vir wildboere (R3,1 miljard in 2011), terwyl oorsese trofeejagters, veral nou met die swakker rand, hulle bydrae van R2,1 miljard aansienlik gaan opstoot.

Vir biltongjagters het wildpryse wel duurder geword. Maar inflasie is ’n feit van die lewe, soos die prys van gewere en ammunisie. Om met ’n Steyr-Mannlicher met ’n Swarofski-teleskoop te kan skiet (al is dit ’n geleende een), soos onlangs in die Kalahari my voorreg was, is natuurlik elke jagter se droom. Ek stel so ’n duur aankoop egter vir nog ’n paar jaar uit en betaal boere eerder meer vir hul wild. Nadat die prys van gewone wild jare lank nie juis tred gehou het met inflasie nie, gun ek ons wildboere die onlangse oplewing.

Die intensiewe teling van wild is ook lankal nie meer ’n bewaringsaksie nie, dis ’n boerdery. En wanneer boere ’n goeie wins kan maak, ondersteun ons dit. Maak ook geen fout nie, wildboerdery is een van die Suid-Afrikaanse landbou se groot spelbrekers. Dit kan in dieselfde asem genoem word as die impak wat GM gewasse, presiesieboerdery, bewaringsbewerking en sojaproduksie op ons boere se wins gehad het.

Gaan diegene wat groot geld in kleurvariante belê het, steeds ’n astronomiese opbrengs op hul belegging kry? Dit hang seker af van waar in die siklus hulle belê het, want soos alles in die lewe, is dit wat opgaan, geneig om een of ander tyd af te kom. Op die onlangse Kirkwood-wildveiling het kleurvariante nie te wafers gevaar nie, maar dit beteken nie goeie pryse sal nie elders behaal word nie. Want soos in enige kontantmark, is dit maar moeilik om te voorspel wat die prys van een dag tot die volgende gaan doen.

Dié wisselvalligheid is vir meeste ernstige wildboere nie juis ’n probleem nie. Soos die meeste boere, is hulle gemaklik met marksiklusse en verskans hulle hulfself daarteen met sinvolle diversifikasie.

Neem byvoorbeeld die Crous-broers van die Noord-Vrystaat, Wildbedryf SA se Wildtelers van die Jaar. Kleurvariante word op die plaas aangevul met skaars wildsoorte, soos swartwitpense en bastergemsbokke, wat loop op aangeplante weidings wat voorheen mielielande was.

Die broers beraam dat hulle vyf keer meer geld uit wild maak as voorheen uit hulle beeste. Dié het hulle al lankal na goedkoper grond geskuif. Want hulle is in die wildbedryf vir die lang duur. Hulle besef dat die geld wat te make is, nie noodwendig deur kleur bepaal word nie, maar deur die volgehoue voorsiening van topgehalte diere aan die mark.

* Chris Burgess is hoofredakteur: Landboupublikasies van Media24. Hierdie skrywe is sy redakteursbrief in LBW van 10 Julie 2015.