Follow us on Facebook Re a Lora on Instagram Location Contact Us

Tel: +27 (0) 64 040 4302

Wilboerdery nog lank staande – Piet Warren (Landbou.com)

Bernard 45" Buffalo Breeding Bull at Re a Lora

Die vraag na goeie trofeëdiere gaan wildboerdery vir nog lank staande hou, al lyk dit of pryse verlangsaam, sê mnr. Piet Warren.

Die wildbedryf in Suid-Afrika staan sterk danksy die swakheid van die rand teenoor die Amerikaanse dollar, sê die voorste wildboer mnr. Piet Warren van Letsitele in Limpopo.

Warren was die geleentheidspreker by die Hoërskool Piet Potgieter se jaarlikse wynveiling in Mokopane, waar hy gaste meegedeel het dat vraag na goeie trofeëdiere wildboerdery vir nog lank staande gaan hou, al lyk dit oor die kort termyn of pryse verlangsaam.

Hy sê dat dit vyf jaar gelede nog VSA$12 000 gekos het om ’n buffelbul in Suid-Afrika te kom jag. Teen die wisselkoers van dié tyd was dit gelykstaande aan tussen R80 000 en R84 000.

SA boer kan nou R130 000 vir buffelbul kry
Deesdae kos dit net VSA$8 500 om ’n buffelbul te jag, maar danksy die wisselkoers kry die Suid-Afrikaanse boer nou R130 000 vir dieselfde buffel as vyf jaar gelede.

Hy glo egter die bedryf kan beter presteer en meer oorsese jagters lok as dit nie was vir die vuurwapenwet wat die invoer en gebruik van jaggewere vir buitelandse besoekers bemoeilik nie.

“Tussen tien en vyftien jaar gelede het omtrent 3 500 buitelandse jagters Namibië per jaar besoek en sowat 5 800 buitelanders het elke jaar in Suid-Afrika kom jag. Ons kry nou net oor die 8 000 internasionale jagbesoekers en Namibië kry nagenoeg 20 000,” sê Warren.

(Lees ook die berig: Namibië onttroon SA as wildbestemming)

Hy meen dat Suid-Afrika se selektiewe teelpraktyke die land in die toekoms nog goed te staan gaan kom. “Die werklike waarde van wild lê in die jagveld. Daar bepaal die wêreld se ongeveer 70 miljoen eienaars van vuurwapens wat vir jagdoeleindes geregistreer is die prys. Dit is daardie vraag wat die prys vir uitsonderlike teelmateriaal onderskraag.”

Oor kommer dat huidige veilingpryse laer as verlede jaar s’n is, sê Warren boere moet besef Suid-Afrika gaan onder ’n droogte gebuk. Alle veepryse ly onder droogtes, maar verstewig weer wanneer ’n droogte gebreek is.

Hy sê die koop en verkoop van diere is ’n eenvoudige landbousom. “ ’n Mens kan nooit meer as twee en ’n half keer vir ’n vroulike dier betaal as wat jy vir haar lam of kalf kan verdien nie. As jy dit doen, boer jy agteruit.” Hierdie reël geld ook vir die wildbedryf, sê Warren.