Follow us on Facebook Re a Lora on Instagram Location Contact Us

Tel: +27 (0) 64 040 4302

Wildbedryf nie OTM, maar groei gesond - Jan Bezuidenhout (Landbou.com)

Té veel nuwe deelnemers beskou die wildbedryf as ‘n OTM – dit bly egter ‘n boerdery en verg harde werk en beplanning. ‘n Kenner gee sy siening van neigings in dié bedryf.

Die wildbedryf het die afgelope dekade met meer as 35% per jaar kumulatief gegroei tot meer as 12 000 kommersiële wildplase op sowat 28,4 miljoen ha grond. Wildplase beslaan tans 16,8% van Suid-Afrika se beskikbare grond, of ‘n derde van die land se 84 miljoen ha weidingsgronde.

Só sê mnr. Johann Reyneke, direkteur en hoof uitvoerende beampte van WildSA. Dit is ‘n maatskappy wat media-oplossings vir die wildbedryf bied, soos www.WildSA.co.za waarop deelnemers vrylik en direk hul wild onder mekaar kan verhandel.

Volgens Reyneke blaas die wildbedryf nuwe lewe in baie ander sektore van die ekonomie en bestaan is geen aanduidings dat hierdie groeiende neiging in die volgende paar dekades sal ophou nie.

Oor die groeiende omskakeling na wildplase het Landbou.com inligting van Noordwes se departement van natuurbewaring verkry oor hoeveel nuwe wildplase sedert 2014 tot middel 2015 tot stand gekom het. In die Dr. Kenneth Kaunda-distrik, wat plase in die 10 distrikte van Potchefstroom, Fochville, Ventersdorp, Stilfontein, Klerksdorp, Orkney, Hartbeesfonein, Wolmaransstad, Bloemhof en Christiana insluit, lyk die prentjie so:
* Agt nuwe wildplase van groter as 400 ha is sedert 2014 tot middel 2015 geskep.
* Altesaam 74 nuwe wildplase wat kleiner is as 400 ha, is in die afgelope 18 maande geskep.

Groei konstant
Reyneke sê die wildbedryf – en meer spesifiek die pryse van wild bereken as ‘n gemiddeld – groei al die laaste 15 jaar teen ‘n baie goeie en konstante pas. In 2011 was daar slegs ‘n afplatting in die gemiddelde pryse (sonder enige daling), waarna die vorige jaarlikse groei weer hervat het.

Oor 2015 sê Reyneke: “Vanjaar is ʼn laer gemiddelde groei as vorige jare gesien, maar die momentum is steeds daar en dit wil na aanleiding van die afgelope twee naweke se veilings voorkom asof boere en gespesialiseerde telers steeds bereid is om baie geld te bestee op die regte diere. Die omset op die Stud Breeders-veiling van twee naweke gelede was teen R201 miljoen wel laer as die vorige jaar, maar ons moet in ag neem dat daar geen ‘uitskieters’ was soos laas jaar op dieselfde veiling nie. Op laas jaar se veiling het die eerste 6 lotte wit rooibokke verkoop vir R34 miljoen. As mens dit buite berekening hou vir doeleindes van ‘n gemiddeld, was hierdie jaar se veiling nie noemenswaardig swakker nie.”

“Op laas naweek se Trophy Breeders-veiling was die gemiddelde omset teen R45 miljoen in teenstelling heelwat laer as laas jaar, maar een van Dries Visser se koedoebulle met verstommende metings van 66 5/8” is steeds verkoop teen ‘n rekordprys van R9,4 miljoen” (Lees volledige artikel hieroor, asook pryse per lot).

“Alles in ag genome, en veral gesien in die lig dat ‘n paar van die veilings hierdie jaar myns insiens op die verkeerde tyd met die verkeerde diere daarop plaasgevind het, dink ek tot dusver dat die wildbedryf hierdie jaar in ‘n gesonde rus-fase is. Ons moet ook in ag neem dat dit nou teeltyd is en die vraag na wild normaalweg die tyd van die jaar heelwat laer is.

Steeds uiters gesond
“Ons sal moet kyk na die komende paar groot veilings en die verwagte styging in aanvraag nader aan die einde van die jaar om die posisie vir 2015 finaal op te som. Maar al toon dit uiteindelik dat die gemiddelde pryse vir die jaar gedaal het, bly die langtermyn-kurwe steeds uiters gesond en opwindend vir die toekoms! Persoonlik wil ek in geen mark belê wat net onophoudelik bly groei nie. Ek klim liewer pens en pootjies in ‘n langtermyn groeiende mark soos die wildebedryf – veral in tye waar die pryse bietjie afkom en geleenthede skep om winskopies op te tel.”

Reyneke sê hulle ondervind op die WildSA se webwerf dat daar nou baie dragtige koeie en ooie beskikbaar is. “Ek skryf dit toe aan die feit dat wildsboere nou begin winste inpalm ten einde aankope te doen vir die volgende teelseisoen. Met meer boere wat nou in dié bedryf betrokke is as ooit tevore, sien ek ook dat die toekoms vir die wildbedryf baie meer seisoenaal-konstant gaan word. Ons sien byvoorbeeld tans dat pryse net voor die teelseisoen in die begin van die jaar baie hoog is, terwyl dit heelwat verlaag tydens die teelseisoen as gevolg van ‘n skerp afname in die vraag gedurende daardie tye.

“Boere kan moontlik vorentoe ‘n ander strategie begin volg deur naby die einde van die teelseisoen, rondom Oktober, hul aankope te doen vir die volgende teelseisoen. Net tyd sal leer, maar ek is seker dat al hierdie dinamika oor die lang termyn die mark en wildspryse net verder sal stimuleer.”

‘n Wildboer van Potchefstroom, mnr. Maarten Kruger, het aan Reyneke gevra wat sy siening oor die mark vir blesbokke is. Reyneke sê: “Ek dink daar is tans ‘n ooraanbod van blesbokke in die mark, maar as jy bereid is om ‘n kuddetjie aan te koop met die oog daarop om lang termyn te teel, kan jy nooit verkeerd gaan nie. Dit kan twee tot drie jaar neem voordat die pryse weer op die vorige hoogtepunt kom, maar teen daardie tyd het jy hopelik al twee of drie keer soveel diere met al die geboortes oor die tydperk. Ten spyte van die ooraanbod, sien ek egter nie die dat die prys tans deur die mat val nie. Die posisie kan ook baie maklik in ‘n kwessie van slegs ‘n paar maande verander en dan is daar weer ‘n oor-aanvraag.

Waarde verhoog
“Verder sal sekere kleurvariante soos geel- en saalrug blesbokke myns insiens altyd gesog bly. Ek dink ook as jy van die begin af elke dier ordentlik merk (tag en/of tatoeëer), met ‘n mikroskyfie merk en gereelde horingmetings en DNA laat doen, gaan dit oor die lang termyn die waarde aansienlik verhoog.”

Oor ‘n vraag van Kruger aangaande swartwitpense, sê Reyneke dat hulle altyd ‘n goeie koop sal bly, mits jy nie onredelike pryse betaal nie. Horinglengte (asook gemiddelde groei van jong bulle) en genetika is hier uiters belangrik. Diere met volledige rekords behaal ook beter pryse. Ek sien ook op my webwerf dat bulle beskikbaar is (seker maar ou jagbulle) vanaf so laag as R21 000, met sekere verse wat teen R310 000 gaan, dragtige koeie teen R350 000 en teelpakkies meestal oor ‘n miljoen rand. Jy gaan dier-vir-dier moet evalueer om ‘n goeie koop te maak, maar soos met die blesbokke en enige ander wild gaan dit op die lang termyn en met die regte teelprogram heel waarskynlik goeie geld in die sak bring.

“Ek dink met alle wild bly die som redelik maklik as mens dit as ‘n langtermyn-boerdery wil bedryf. Ek dink ook dat mens moet fokus op kalwings as jou opbrengs en nie noodwendig die vermeerdering/vermindering van waarde van die oorspronklike kudde nie. Té veel nuwe deelnemers beskou die wildbedryf as ‘n OTM – dit bly steeds ‘n boerdery en verg harde werk en voortdurende beplanning. Anders as enige ander boerdery, volhou ek steeds dat die risiko’s baie laer is en die langtermyn winste by uitstek baie hoër.

“Vleisproduksie gaan groot raak. Die Regering is tans besig om vier groot wildslagpale regoor die land te bou. Vir hierdie doeleindes, kan mens nou al begin kyk na elande, sebras en ander groot diere wat nog steeds teen goeie pryse aangekoop kan word. Onlangs is 20 elande aangebied op WildSA teen R7 500 stuk uit Potgietersrus-area. Wildsvleis – of soos hulle dit in Europa noem “venison” – verkoop tans aan die eindverbruiker daar tot so hoog as 210 euro/kg. Teen die huidige wisselkoers van R15,18 is dit ‘n enorme prys van R3 187/kg. Iewers tussen die produksieprys en die finale prys aan die eindverbruiker, is daar baie geleenthede om geld te maak. As ‘n mens so daarna kyk, is meeste van die gewone wild vandag nog spotgoedkoop.”

Njalas as lae-risiko diere
“Ek sal persoonlik altyd ook njalas oorweeg as ‘n lae-risiko dier om te koop. Hulle pryse bly redelik konstant en daar is altyd gewillige kopers. Ek sal ook nie ander spesies wat tot dusver minder populêr was weggooi nie. Daar kan goeie geleenthede opduik met lechwes en ‘n hele klomp ander spesies in die toekoms.”

Volgens Reyneke is die SA wildbedryf nie ‘n nuwe bedryf nie, maar wel nog ‘n jong bedryf. “Daar is nog baie groei wat voorlê! Toe ek grootgeword het, was wild iets wat jy in ‘n wildtuin gaan sien het. Vandag, is dit die vinnigste groeiende en een van die mees gespesialiseerde fasette van die landbou in die wêreld. Hoewel die industrie eers die laaste 15 jaar werklik sy waarde kon vind, teel wildboere al van die 1960’s af aktief en ons moet dalk vir ‘n oomblik stilstaan en hulle bedank vir al die genetika wat nou beskikbaar is.”

Ter afsluiting sê Reyneke die volgende met verwysing na die laaste veiling: “Geen boer gaan R9,4 miljoen vir ‘n koedoe betaal as hy nie sy huiswerk gedoen het nie. Iets groter is hier betrokke as korttermyn winste. Mense moet oordentlik hul navorsing gaan doen en die groter, langtermyn prentjie verstaan voordat hulle kritiek lewer.”

* Vir ‘n meer volledige analise en finansiële inligting oor die wildbedryf, kontak Wildbedryf SA (WRSA) op 012 335 6994 vir ABSA se nuutste uitgawe van “Game Ranch Profitability in South Africa”.