Follow us on Facebook Re a Lora on Instagram Location Contact Us

Tel: +27 (0) 64 040 4302

Wildboere hou asem op oor droogte - Jasper Raats (Landbou.com)

Die mark vir wild is dalk versadig wat sekere wildsoorte betref, maar skaars soorte bly die uitsondering.

As hy vanjaar ’n begroting van R10 miljoen vir wildaankope het, sê dr. Peter Oberem, voorsitter van Wildbedryf SA, sal hy dit gebruik om die beste moontlike teelmateriaal van kleurvariante, skaars wild of gewone wildsoorte, soos koedoes, waterbokke of rooihartbeeste, aan te koop.

Oberem sê die droogte gaan vanjaar die grootste impak op die wildbedryf hê. Daar is glo reeds ’n redelike groot aanbod van algemene wildsoorte wat nie as hoëwaardewild beskou word nie. Dit is omdat dit vir hierdie diere se eienaars nie die moeite werd is om hulle ten duurste te voer nie.

Hy sê egter so sleg as wat dinge nou lyk, so goed kan dit lyk wanneer dit weer reën. Almal wat hul wildgetalle moes verminder om die droogte te oorleef, gaan dan weer diere aankoop om hul kuddes op te bou. “Dié boere wat dan nog goeie teelmateriaal het om te verkoop, gaan baie goeie pryse daarmee verdien.”

Uitbreiding moontlik
Die droogte ten spyt, is die hele wildbedryf in ’n goeie posisie. Só sê mnr. Ernst Janovsky, landboubesigheidshoof van Absa, in sy vooruitskouing vir vanjaar. Hy sê daar is ruimte vir uitbreiding en belegging in al die fasette van wildboerdery, naamlik wildtoerisme, wildprodukte, handel in lewende diere en jag.

Hy beveel aan dat boere in ’n groot verskeidenheid wildsoorte belê om ’n alles-in-een-gerief vir jagters te bied. Dit is ook nodig om in die opgradering van fasiliteite te belê, nie net op jagplase nie, maar ook by ekotoerismebestemmings.

Hy waarsku egter dat party diere se pryse op wildveilings reeds verlede jaar begin verlangsaam het. Dit kan toegeskryf word aan seisoenale kooppatrone, die internasionale en plaaslike ekonomie, onsekerheid oor grondhervorming en dalk selfs die droogtetoestande oor groot dele van Suid-Afrika.

Die toekoms vir die jagmark lyk ook belowend. Ten spyte van droogtetoestande wat dit noodsaaklik gemaak het om meer diere as gewoonlik te laat uitskiet, het jagpryse vir wild die afgelope jaar met byna 12% gestyg. Dit is danksy die aanvraag wat die teelmark vir trofeediere teweeggebring het. “Wêreldwyd word jaggeleenthede en jagbestemmings ál minder, terwyl dit in Suid-Afrika al hoe meer word,” sê Janovsky.

Optimisme oor vleismark
Oberem en Janovsky is albei ook optimisties oor die vleismark se toekoms. Wildsvleis kan nou gesertifiseer word ingevolge ISO 14000 (wat die gehalte van ’n produk waarborg), ISO 9001 (wat die bestuurstelsel oudit en eenvormigheid verseker) en ISO 2200 (wat die verwerking van die produk oudit en verseker dat die proses aan standaarde voldoen).

Lees die volledige berig in Landbouweekblad se uitgawe van 8 Januarie 2016.