Follow us on Facebook Re a Lora on Instagram Location Contact Us

Tel: +27 (0) 64 040 4302

Wildborrel bars g'n, sê kenners - Jasper Raats (Landbou.com)

Ná die Kirkwood-wildveiling het dit in jag- en landboukringe gegons dat die “wildborrel” gebars het.

G’n wildborrel is aan die bars nie; wildsoorte in die wildbedryf gaan – nes in enige ander mark – deur siklusse. Tans is daar verskeie faktore wat die markpryse van veral kleurvariante onder wild afwaarts dwing, sê kenners.

Na aanleiding van die lae omset van die onlangse Kirkwood-wildsfees se veiling, het dit in jag- en landboukringe gegons dat die “wildborrel” uiteindelik gebars het.

Mnr. Louis van der Watt van die Atterbury-eiendomsgroep en ’n vennoot in die Wildswinkel, ’n besigheid wat wild koop en verkoop, sê egter die feit dat wildboere by die Kirkwood-veiling kon besluit om nié laer pryse te aanvaar nie, dui op ’n gesonde bedryf.

“ ’n Borrel bars as bates met skuld gefinansier word en die eienaars hul bates begin verkoop om die skuld te betaal.

“Só ’n skielike ooraanbod veroorsaak dan dat pryse tuimel en die bate se waarde vinniger verlangsaam as wat die skuld gedelg kan word. Dis wat in 2007 met die Amerikaanse eiendomsmark se sub prima-lenings gebeur het.”

Van der Watt sê wildboerdery is hoofsaaklik ’n kontantbedryf en verkopers kan dus bekostig om diere terug te hou en te wag vir beter markpryse. “As verkopers by Kirkwood enige pryse uit desperaatheid aanvaar het, was daar rede tot kommer.”

Hy sê wildboerdery is soos enige ander beleggingsportefeulje. Daar is beleggings met ’n hoë risiko en ’n hoë winspotensiaal, soos met kleurvariante, en veiliger langtermynbeleggings, soos die geval is met buffels, swartwitpense en bastergemsbokke.

Van der Watt meen die vraag na kleurvariante is nie meer wat dit ’n jaar gelede was nie omdat die grootmaatmark vir dié diere vir eers versadig is. “Daar was ’n stadium toe enigiets wat anders lyk, verkoop het, maar die mark is besig om meer volwasse te raak en telers soek nou gehaltediere. Sulke diere behaal steeds goeie pryse,” sê hy.

Mnr. Lood Bester, een van Van der Watt se vennote in die Wildswinkel, sê uitskietpryse op wildveilings vroeër vanjaar het onrealistiese verwagtinge by baie verkopers geskep. “Omdat die mark nie aan onrealistiese verwagtinge voldoen nie, beteken dit nie dat dit ineenstort nie.”

Hy sê dit is belangrik om te onthou dat wild aanwas het wat die beleggingswaarde laat groei, selfs al daal pryse. “Ek het in 2013 bereken dat ’n swartwitpenskoei wat teen R350 000 gekoop is, steeds 19% groei per jaar op die aanvanklike belegging realiseer as sy elke jaar ’n kalf lewer, selfs al val die markprys vir tien jaar elke jaar met 10%.”

Mnr. Riaan Crous van Crous Boerdery, Wildbedryf SA se wildboerdery van die jaar, sê selfs met pryse aan die onderkant van ’n siklus is wildboerdery ten opsigte van rand per hektaar steeds een van die winsgewendste boerderypraktyke wat daar is.

“Ons moet aanvaar dat selfs ons kleurvariante ook uiteindelik hul geld op die jagveld gaan moet verdien en dáár gaan pryse aansienlik laer wees as in die veilingshokke. Maar ’n swart rooibok teen R10 000 is steeds winsgewender per hektaar as ’n gewone rooibok of enige ander lewende hawe.”

Hy sê die huidige laer pryse kan ook aan die seisoen toegeskryf word. ’n Boer wat nou R500 000 opdok vir ’n swart rooibokram, moet daardie ram tot volgende jaar se dektyd onderhou.

Boere is sakemense, sê Crous, en enige sakeman wat sy sout werd is, gaan nou eerder sy geld belê waar dit wins maak tot Januarie/Februarie en dán die swart ram koop.

Dr. Peter Oberem, voorsitter van Wildbedryf SA, sê die droogte waaronder Suid-Afrika gebuk gaan, speel ook ’n rol in die wildbedryf.

Crous stem saam en sê hoewel hy nie meen dit skrik boere af om wild te koop nie, het baie boere die afgelope jaar groot verliese in ander bedrywe gely. “Daar is R10 miljard minder in die landbousektor beskikbaar as ander jare. Ons almal voel dit,” sê hy.